Tal-Tec het ’n helpende hand uitgesteek na boere in Noordwes wat onlangs onder verwoestende brande deurgeloop het. Die maatskappy het met die samewerking van Agri Noordwes en Senwes voer aan dié boere geskenk. 

Vir die boere van Noordwes was 2024 tot dusver ’n moeilike jaar. Eers het die reën weggebly en toe het hulle onder verwoestende brande deurgeloop. Hulle het egter danksy maatskappye soos Tal-Tec weer moed.

Koos Smit van die plaas Klipplaasdrift waar hy met skape, beeste en mielies boer, het sedert Julie drie brande op sy plase in die distrik Ventersdorp in Noordwes gehad. 

“Met die eerste brand wat op 7 Julie uitgebreek het, het 400 ha weiding en 150 ha mieliereste op my plaas Vlakfontein afgebrand. Begin Augustus het 70 ha van my spaarweiding op Palmietfontein afgebrand en op 15 September het 40 ha aangeplante weiding op Klipplaasdrift afgebrand. Altesaam sowat 200 ha aangeplante weiding het afgebrand,” vertel Koos.

“Ek sukkel op die oomblik met voer en as die beeste van die reste afkom, moet ek kuddes bymekaar gooi om dit te laat werk.” 

Johan van Zyl boer op die plaas Vlakfontein buite Ventersdorp met beeste, skape en pekanneute. Hy het ook onder brande deurgeloop.

VAT HANDE

Tal-Tec het met Agri Noordwes en Senwes hande gevat om hierdie boere te help. Tal-Tec het verskeie vragte voer geskenk. Van dié vragte is met Tal-Tec-vragmotors vervoer. 

“Ons het laas week twee vragte afgelewer en hierdie week nog twee,” het Thys Ingwersen, bemarkingsbestuurder by Tal-Tec, op 19 September gesê met die aflewering van die vrag op Klipplaasdrift. 

Hierdie vragte beloop sowat 136 ton. “ ’n Mens moet in gedagte hou die voer wat ons skenk, is nie dooie gras nie, ons gee kuilvoer van die beste gehalte,” het Thys gesê. “Ons behoort volgende week en die week daarná nog vragte te skenk.”

Senwes het ook die vervoer van vragte geborg.

Van links is Thys Ingwersen, bemarkingsbestuurder by Tal-Tec, Koos Smit van die plaas Klipplaasdrift, Ventersdorp, en Johan van Zyl van die plaas Vlakfontein, Ventersdorp, tydens die aflewering van voer wat deur Tal-Tec geskenk is. Senwes het die vervoerkoste gedek. Foto: Marisa Beeton

Van links is Thys Ingwersen, bemarkingsbestuurder by Tal-Tec, Koos Smit van die plaas Klipplaasdrift, Ventersdorp, en Johan van Zyl van die plaas Vlakfontein, Ventersdorp, tydens die aflewering van voer wat deur Tal-Tec geskenk is. Senwes het die vervoerkoste gedek. Foto: Marisa Beeton

Tal-Tec het in twee weke sowat 136 ton kuilvoer by boere afgelaai. Foto: Verskaf

Tal-Tec het in twee weke sowat 136 ton kuilvoer by boere afgelaai. Foto: Verskaf

SAMEWERKING

Thys het gesê dit gaan vir Tal-Tec daaroor om terug te gee aan die boere met wie die maatskappy al 50 jaar sake doen.

“Tal-Tec en die landbou is sinoniem met mekaar. Met hierdie hulp bly ons op grondvlak by boere betrokke.” Hy het beklemtoon Tal-Tec bied die hulp met die samewerking van Agri Noordwes aan. “Ons besluit nie self wie die voer kry nie. Agri Noordwes koördineer dit.

“Ons het Agri Noordwes genader om te hoor hoe ons kan help en daardeur het dit uitgebrei tot ’n suksesverhaal waarby Tal-Tec, Senwes en Agri Noordwes betrokke is.” 

Naudé Pienaar, waarnemende uitvoerende hoof van Agri Noordwes, sê dié organisasie is al 10 jaar by ramphulpverlening betrokke en hy doen dit in vennootskap met organisasies soos AfriForum, Caring Daisies, Saai en die TLU Noord.

“Ons het ook maatskappye soos Tal-Tec en Senwes wat ons help, en ons het groot waardering daarvoor,” sê Naudé.

Hy sê Agri Noordwes lig sy lede in wanneer hy skenkings kry. Die lede doen dan aansoek om hulp. “Die boereverenigings besluit self wie die skenkings kry. En dis nie altyd net lede nie.

“Ons kontak met maatskappye soos Tal-Tec help ons baie. Hulle weet hoe lank ons al met rampverlening besig is en vertrou ons prosesse.”

GROOT WAARDERING

Vir Koos en Johan beteken dié skenkings dat hul boerderye kan voortbestaan. “Ek moet vir Tal-Tec, Senwes en Agri Noordwes dankie sê. Sonder die skenkings sou ek beeste moes verkoop. Ek is baie dankbaar,” sê Johan. 

Vir Koos is dit ook ’n lewensaar. “Die voer gaan my baie help om my beeste aan die gang te hou. Die voerkrale het nog voer vir die skape, maar vir die beeste gaan ek teen die einde van die maand begin vasbrand. Dan moet ek hierdie voer meng en vir my beeste begin voer.”

Voer wat deur Tal-Tec geskenk is, word op die plaas Klipplaasdrift buite Ventersdorp, Noordwes, afgelaai. Foto: Marisa Beeton

Voer wat deur Tal-Tec geskenk is, word op die plaas Klipplaasdrift buite Ventersdorp, Noordwes, afgelaai. Foto: Marisa Beeton