Deur Marieke Snyman

Naspeurbaarheid is nie net ’n regulatoriese vereiste nie – dit is ’n noodsaaklike instrument om voedselveiligheid, siektebekamping en marktoegang te verseker. Met die bekendstelling van ’n bedryfsgedrewe stelsel bied die Red Meat Industry Services (RMIS) nou ’n oplossing wat produsente en kopers se vertroue versterk.
Die vermoë om ’n dier se oorsprong en bewegingsgeskiedenis na te speur, is van deurslaggewende belang vir die volhoubaarheid en geloofwaardigheid van die rooivleisbedryf. Vorige pogings om ’n nasionale naspeurbaarheidstelsel in te stel, is nie algemeen aanvaar nie. Nou het die RMIS ’n bedryfsgedrewe benadering ontwikkel wat maklik en prakties is vir produsente om te gebruik.
Die RMIS-naspeurbaarheidstelsel
Die RMIS se nuwe naspeurbaarheidstelsel is uitsonderlik omdat dit nie deur die staat beheer word nie, maar deur die bedryf self bestuur word.
Die beginpunt is dat ’n boer sy plaas registreer met ’n GS1-produksie-eenheidnommer. Wanneer ’n dier verkoop word – hetsy dit op ’n veiling, aan ’n voerkraal of aan ’n abattoir is – word hierdie nommer gebruik om die dier se herkoms te bevestig. Hierdie data word dan aangeteken in ’n sentrale databasis, wat verseker dat elke dier ’n deursigtige rekord het.
Die stelsel is reeds in November bekendgestel, maar het onlangs sy volgende fase betree waarin dit aktief deur belanghebbendes in die bedryf bevorder en ingestel word.
Op die onlangse SAFJA-konferensie was daar gemengde gevoelens oor die stelsel, veral oor kwessies rondom besitreg en grond. Die RMIS se benadering ruim hierdie bekommernisse uit die weg deurdat die hoofdatapunte nie eienaarskap vereis nie. Die vier hoofdatapunte is:
1. Produksie-eenheidnommer.
2. Oormerk-nommer.
3. GPS-koördinate van die laaipunt.
4. Datum.
Daar is geen behoefte aan ID-nommers, belastingnommers of ander persoonlike inligting nie. Die registrasie van ’n produksie-eenheidnommer is eenvoudig: ’n Gebruiker klik op ’n kaart, voer ’n naam en ’n WhatsApp-kontaknommer in, en dit is klaar – geen verdere verifikasie of administratiewe rompslomp.
Hoe registreer jy op die RMIS-platform? Om produsente te help met registrasie, is die proses eenvoudig en gebruikersvriendelik:
1. Gaan na die RMIS-webwerf en kies Services > Traceability, klik dan Register your production unit.
2. Skep jou profiel met jou selfoonnommer en verifikasiekode.
3. Bepaal jou ligging deur jou produksie-eenheid op ’n kaart aan te dui.
4. Vul jou besonderhede in, insluitend plaasnaam en produksietipe.
5. Bevestiging is per WhatsApp. Jou GS1-sertifikaat word binne sewe dae gestuur.
Waarom is naspeurbaarheid belangrik?
Daar is verskeie redes waarom naspeurbaarheid ’n kernbehoefte vir die bedryf is.
• Voedselveiligheid. Supermarkte en verbruikers eis al hoe meer waarborge oor die herkoms en gesondheid van hul vleisprodukte.
• Uitvoermarkte. Europa en ander streng gereguleerde markte vereis dat lande ’n bewese naspeurbaarheidstelsel het.
• Siektes en biosekerheid. Siektes soos bek-en-klouseer kan net doeltreffend bestuur word as daar akkurate rekords is oor waar diere vandaan kom en waarheen hulle verskuif is.
• Diefstalvoorkoming. Deur ’n digitale spoor vir elke dier te skep, word dit moeiliker vir veediewe om gesteelde diere te verkoop.
Wat lê voor?
Die RMIS-stelsel is steeds in sy vroeë stadiums van toepassing, maar verskeie belanghebbendes in die bedryf, insluitend afslaers en voerkrale, ondersteun die inisiatief. In die toekoms kan verdere data, soos ’n dier se ouderdom en ras, ook in die stelsel geïntegreer word. Dit sal ’n nog meer gedetailleerde en robuuste rekord vir elke dier skep, wat voordele vir produsente en verbruikers inhou.
Greg Talbot van Tal-Tec, een van die voorstanders van beter naspeurbaarheid, meen hierdie stelsel het die potensiaal om die bedryf radikaal te verbeter: “Die sleutel tot ’n suksesvolle naspeurbaarheidstelsel is eenvoud en vertroue. Ons wil nie produsente se data misbruik of hulle oorlaai met onnodige admin nie. Hierdie stelsel bied ’n realistiese en doeltreffende manier om diereverskuiwings na te spoor, en uiteindelik, om die bedryf meer deursigtig en verantwoordbaar te maak.”